(English below)
Die moeilikste van enige reis is die lang staantye weens visums en doeane. Vanaand begin my reis terug Egipte toe en met die regte aankomsstempel in my paspoort is ek more vroeg-vroeg by die Soedanse ambassade in Kairo. Ek hoop die KLR staan nog waar ek dit gelos het met alles nog aan die fiets. Ek vertrou op die goedheid van die mens.
Ek het gistermiddag na die wedstryd tussen Bafana Bafana en Mexico gekyk en my SA t-hemp gedra! In gees was ek ook in Soccer City. Met my klein driepoot het ek ‘n foto van my geneem om my ware kleure te wys.
Teen Dinsdag, as alles goed gegaan het, begin ek suid reis. Ek los dan die gemaklike lewe met baie kommunikasie agter.
Ek het ‘n baie mooi en besondere boodskap gekry wat ek met julle wil deel. Dis boodskappe soos die en baie ander wat my opnuut laat besef hoe wonderlik vriendskap en veral mense is. Baie dankie vir die boodskap!
Wanneer jy wakker word met ‘n glimlag op jou gesig, Soedanvisum sonder probleme kry, water in die woestyn wanneer jy dors is, ‘n veilige plekkie om jou tent op te slaan, ‘n kussing het om op te slaap wat nie ‘n baksteen in het nie, email kry van iemand van wie jy lanklaas gehoor het, veilig deur Noord-Kenia kom, geseënd by die laaste grens aankom, en dan die verwelkoming van onse mooie land ervaar … Dan weet jy daar is ‘n engeltjie daar Bo wat Afrikaans verstaan!
As ek Dinsdag wegkom uit Kairo, gaan ek teen Donderdag of Vrydag in Aswan in die suide van Egipte wees. Vrydag is die Arabiese Sondag, dan is alles toe. Saterdag en Sondag moet ek weer die doeanewerk vir die uitvoer van die fiets afhandel. Maandagmiddag vertrek die weeklikse ferry met weeluise Soedan toe. Mense, die beddens …. ek beplan om op die dek buite te slaap waar niks my kan byt nie. Die KLR kom nie op dieselfde boot nie en vertrek eers teen Dinsdag uit Egipe. Ek sal ‘n dag of drie in Wadi Halfa moet deurbring vir al die papierwerk, en dan is dit die Nubiese Woestyn!!!! So, binnekort gaan die blogbydraes baie meer interessant word as die heeltyd se visum gekla.
Probeer jul Wadi Halfa voorstel: Woestyn, sand, plastiese sakke, stukkende buitebande, hitte, hitte, en mans wat orals sit. As ek dit reg het, speel Bafana Dinsdagaand. Is dit so? Ek gaan dan met my hemp en vuvuzela tussen die mans in die sand sit en sokker kyk! Sal ‘n foto neem en oplaai wanneer ek weer internet het.
Wonderlike naweek vir julle almal!
Hallo Lodie
Günter het my nou geroep om jou ‘blog’ te lees. Sien uit na die volgende ene! Sterkte en mag die kilometers een vir een suksesvol afgele word. ” Ek kry nie die kappie vir die e op die sleutelbord nie.”
Lodi, Groete en lekker ry. Ek reageer laat, maar volg jou weer van vandag af. Baie sterkte en lekker ry.
Ek lag lekker vir jou en die weeluise…
Wie wil in elk geval nou op ‘n bed slaap as jy onder die sterrehemel op die dek kan slaap, of wat praat ek? Hoop daar is iewers ‘n kolletjie wat nie onder dak is nie maar onder die hemel…geniet!!
En BLAAS daai vuvuzela, en geniet die bloed wat deur jou are pomp!
Blessings!
Christina
Sterkte Lodie, ons oe is op jou, maar belangriker, Pa se oe is op jou, so alles sal reg afloop!
Geniet elke geleentheid!
Daardie luise byt vrek seer! Hulle is evil verby en as ek dit weer sou doen, sou ek ook eerder buite slaap/of minstens nie op die matrasse nie. O wee Lodie, my hartjie trek nou met ‘n punt soedan toe!