Goeie middag uit warm warm warm Wadi Halfa!
Die KLR het gekom, saam met honderde bokse en yskaste en wasmasjiene en matte en potte en panne. Na ‘n lang sit in die son by doeane het ek uiteindelik die KLR gekry. Dis te warm om nou te vertrek. Die son steek op ‘n mens se vel met ‘n fisiese steekpyn (kry mens so iets?)
Ek beplan om nou more lank voor sonopkoms te vertrek en more aand langs die Nyl by mense te slaap wat ons verlede jaar die hartlikste welkom denkbaar gegee het.
Hoe bring mens die tyd in so ‘n woestyndorpie deur terwyl jy wag? Jy drink water, en nogmaals water. Daar is ‘n shack waar mens vir twee Soedanese pond ‘n groot beker vars lemoensap kan koop (ten minste vier glase). Langs die shack is ‘n eetplekkie van ‘n Egiptiese gesin. Daar het ek gisteraand rys en orca geëet en daarna baklava!!! Ek kon nie glo dat ek so iets hier in die woestyn sou kry nie!!!
Die dorpie is weer taamlik verlate en stil na die weeklikse ferry terug Egipte toe vertrek het. Ek is seker nou die enigte een hier van Europese (300 jaar gelede) herkoms.
As dit donker word, dan leef die strate, Verskeie eetplekkies sit dan ‘n klein tv stelletjie buite op die sypaadjie en almal wat wil kyk, kom squad of sit op straat voor die tv. Hulle rook waterpype, drink rou Nylwater (ek is ook nou al op daardie geel water) en leef hulle in die sokker in, Gisteraand was almal bankvas agter Ghana,
Al wat my onderkry, is die aanmekaar gespoeg. Orals, En nie net spoeg nie. Daar word van diep agter in die keel gegorrel en vorentoe gerol en dan gespoeg. Dis erg.
Slaaptyd word al die beddens uitgedra buite toe. Jy slaap sommer so met jou klere bo-op die bed. Die maan is nou al redelik vol en verdof die res van die sterre. Dit bly egter Afrikamooi. Jy weet dis wakkerwordtyd as die manne begin te spoeg. Mans en vroue slaap apart.
Wastyd gaan haal jy ‘n skottel, skep Nylwater uit ‘n drom en gaan “stort” toe waar jy jou uit die skotteltjie was. Toilettyd … gat in die grond, mooi hurk, asem so lank as moontlik inhou, en dan bid dat al die pas en meet reg was. Dis ‘n vreemde wêreld.
Ek eet lekker in Wadi Halfa. Rys en orca is my gunsteling, en dan so nou en dan ‘n stukkie stroopsoet lekker Arabiese gebak.
Ek gaan netnou die KLR vol petrol maak, my waterhouers met vars water volmaak (tans nog Israeliese water in die houers), en dan gaan ek lekker koffie en weer baklava soek. En more aand hoop ek om in die Nyl te kan swem.
Ek weet nou dat ek nooit, nooit in ‘n woestyn sal wil bly nie.
Baie groete uit die hitte!
Lodie ou yster, jy laat dit wild maar tog lekker klink! Seker in ‘n mate lekker om sekere bekende plekke weer te sien en veral die great mense wat mens in Afrika raakloop ne?
Die “kulture” is maar skokke op ons “mak” afrikanerkies, maar ook snaaks nice!
Sterkte met jou rit verder en geniet die gate uit die trip!
Emmanuel!