Drie dae gelede het ek by my huis gestop na die maande se ry. Baie het sedertdien gebeur.
1. Ek het al my motorsleutels gevind;
2. Vanoggend eers het ek my kantoorsleutels gekry.
Ek kan dit skaars glo dat net R 3 812.00 nog kort is om ons doelwit vir Operation Smile te behaal. My volgende inskrywing gaan eers wees as ons dit gekry het.
Die naweek se reunie, die weersiens met oudleerlinge en ‘n epos wat ek vandag gekry het, onderstreep net weer vir my wat ‘n jongmens kan vermag as sy selfbeeld goed is. Daarom was hierdie rit en insameling vir my en my kollegas so belangrik. Elke haaslippie en gesplete verhemelte moet reggemaakword!
Die eerste foto van die reunienaweek is van Naomi en Emma, twee van die puik langafstandatlete van my langafstandgroepie toe ek nog onderwyser was. Die langafstandatlete het hard gewerk en oefenkampe elke Januarievakansie bygewoon. Emma was die 1500m en 3000m ster en het my altyd probeer klop in die Kersiefees bergwedloop oor 23 km in Ficksburg aan die einde van die hardloopjaar. Naomi was die 800 m ster en sy het altyd geoefen tot sy bleek was.
Ek wonder as een van hulle ‘n haaslippie gehad het of hulle só sou presteer het soos wat hul wel presteer het. Ek glo nie.
Toe ek nog onderwyser was, het aan die begin van ‘n nuwe skooljaar ‘n tweeling by ons ingeskryf, Ellane en Margott Rautenbach. Kyk, hulle was besig. Hulle was altyd met iets aan die gang. Ek is weg en hulle is later weg en ons het nooit weer van mekaar gehoor nie, tot vanoggend. Hier is Ellane se epos:
“Hi Lodie! Wat ‘n verassing om jou artikel in die Burger te lees en jou website te besoek. Ek het vir Margott ook laat weet dat sy moet kyk! Hoop dit gaan baie goed. Sal nooit jou teleurstelling in ons vergeet toe ons netbal bo landloop kies nie…Intussen het ons oë darem oopgegaan en het ons albei al Comrades en verskeie marathons, ens al gedoen! Groot lekkerte. Margott gee klas vir die CIMA studente in Londen en ek gee klas vir die B Rek Hons studente by Sbosch Univ. Groete en sterkte!!! Ellane van Wyk (Rautenbach) alias een van die (stoute) tweeling…:-)”
Toe kyk ek na die foto’s wat Ellane gestuur het, en ek wonder. Waar sou hulle vandag gewees het as hulle met haaslippies sou moes grootword?
Ek is bly ons het Operation Smile vir ons projek gekies.
Ek kry hoendervleis wanneer ek die briewe lees en besef net HOEVEEL invloed ‘n onderwyser op ‘n kind se lewe het. Die Here seën jou Lodie.