Die blou-ape en die houtkruisie

Ek is nie bygelowig nie maar as ek op die KLR is, het ek ‘n paar dinge wat ek doen omdat ek glo dit help.

Een daarvan is die houtkruisie aan my fiets. Elke dag as ek op die fiets klim, voor ek begin te ry, vat ek aan die houtkruisie. Dit gee my rustigheid, die gevoel van beskerming.

Ek het die houtkruis in 2007 uit Duitsland gekry, van ‘n Duitse vriendin Anne Rebstock. Sy en haar man woon in ‘n klein dorpie in die suide van Duitsland. Buite hul dorpie is ‘n groot kerk, hoog op ‘n berg gebou. Sy het die kruisie soontoe geneem en gevra dat hul priester dit moes seën. Toe het sy dit vir my gestuur.

Tydens my lang reise het sy elke week die berg opgestap en vir my ‘n kersie in hul kerk aangesteek. Toe ek in 2008 in Duitsland aangekom het, is ek en sy dieselfde middag kerk toe om ‘n kersie te gaan aansteek om dankie te sê. In 2010, voor ek met my terugreis begin het, was ek en sy weer in die kerk, die keer om vir beskerming te bid.

Die baie reën en die fel woestynhitte het die houtkruisie laat wit uitdroog. Maar dit het steeds sy doel gedien. As ek daaraan geraak het, het ek geweet ek was nie alleen nie. Iemand groters was by my, saam met my oppad.

Verlede maand het ek en Eeton, op pad Malawi toe, ‘n aand in Livingstone, Zambië, gekamp. Daar was baie blou-ape, stoutes ook. Hulle het die klein rugby- en sokkerballetjie aan Eeton se fiets stukkend gebyt. Aan my fiets het hulle die houtkruisie afgebreek en weggedra.

Toe het die KLR se probleme begin. Ek het bly staan. Dit was los drade en slegte konneksies. Ek moes vir die eerste keer ooit ‘n bietjie olie ingooi tussen die dienste.

Ek het die kruisie gemis.

Vrydagaand wou ek gou die olie vervang en filters skoonmaak. Die KLR was so dood soos ‘n klip. Weer was dit ‘n los draad êrens.

Saterdag is ek saam met ander motorfietsryers Nylstroom toe. Die ouetehuis het 50 jaar oud geword. Toe ek net voor een die middag teruggekom het, was daar ‘n groot bruin koevert uit Duitsland in my posbus.

Anne het weer vir my ‘n houtkruisie gestuur. Ek het dit dadelik aan die fiets gaan vasmaak.

Nou is ek in my hart weer gelukkig. Die “derde wiel” aan die KLR is terug.

About Lodie

Africa, Africa, Africa!
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

3 Responses to Die blou-ape en die houtkruisie

  1. Makkie says:

    ‘n Liefdesdaad op die regte tyd. ‘n Week vol seën, vreugde en vrede.

  2. Egmont Sass says:

    Hi Lodie
    Ek is bly jy het weer n kruis gekry, miskien moet ons almal kruise kry. Troos jou daaraan dat erens is daar n blou aap in Zambie met meer geluk as al die ander blou ape. Ons vertrou hy is nou ook geseend. Miskien wanner jy weer daar draai sien jy daai aap met sy eie KLR.
    Groete
    es

  3. Maryna says:

    AMEN !

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s