Sedert my laerskooljare het ek in al die boeke wat ek gelees het, my altyd verwonder oor die diep geestelike band wat tussen ‘n man en sy beste vriend, dikwels was dit ‘n hond of ‘n perd, kon ontwikkel. Ek was nog vroeg laerskool toe ek eenkeer ‘n verhaal gelees het van ‘n seun met sy swart hond en al die avonture wat die twee meegemaak het. Toe die hond aan die einde weens die een of ander koors dood is, het ek agter die kas in my kamer gaan wegkruip en my laerskoolhart leeg gehuil vir ‘n hond wat nie meer was nie.
Tye het verander. Vandag kan ‘n perd nog die beste vriend wees. Maar die perd het nou ‘n gedugte teenstander in die vorm van ‘n motorfiets gekry. My hond, of perd, se naam spel mens KLR.
Ons langnaweek in Botswana is verby. Weer het die getroue ou KLR sy staal gewys en moeiteloos deur diep sand, oor skerp klippe, bospaadjies omsoom met doringbos, en oor die wye Makgadigadi die kilometers opgevreet.
Ons was sewe ryers wat van Naboomspruit Donderdagoggend vroeg vertrek het. Nick, Francois en Albert het al Woensdag Naboom toe gekom. Ook Suzanne en Andrew op hul BMWs het laat Woensdag opgedaag. Willie en Cathy het kom potjiekos maak en ons het onder ‘n volmaan ons rond geeet.
Donderdag laatmiddag naby Serowe in Botswana het ons Doc KLR, een van die legendes in die KLR motorfietskringe, en 5 van sy vriende op die afgespreekte plek gekry. Ek het vir ons ‘n boskampplek langs die pad gesoek. Murphy het egter anders besluit. Vir byna 170 km was die pad afgekamp van die heerlike bos waarheen ons wou. So 108 km voor Lethlakane was ‘n sandpaadjie. Ek het die kans gevat en ons het daar ingery. Dit was ideaal en dieper in die mopaniebos het ons ‘n lekker plek gekry waar die 13 motorfietsers hul KLRs en tente kon staanmaak.
Doc KLR en sy vriende was vir ons soos bos-tv. Hulle is ‘n groepie hegte vriende wat huk KLRs hard ry, teerpaaie vermy, mekaar se siele sonder ophou uittrek, klippe en beesmis in mekaar se bagasie wegsteek en sonder ophou lag en gesels. Ons klomp wat van Naboom gery het, het net gelag en gelag.
Vrydagoggend het ons voor sonopkoms begin oppad. Met die ooshemel wat begin rooi verkleur het, het ons koffie gedrink en ons ontbyt geeet. (deelteken bly ‘n probleem). In Lethlakane het ons die laaste petrol ingegooi en toe die pad Kubu aangedurf. In ‘n klein dorpie het Doc KLR ‘n nuwe hoofstuk in die gebruik van bostoilette geskryf.
Die sand was lekker diep en die manne het begin omval. Stadig maar seker het ons die meters in kilometers verander, en kort na middagete het ons by Kubu aangekom. Johannes en Sewes in Toyotas het vir ons 60 liter water kom neersit. Teen sonsondergang het ons op die pan uitgery om mooi foto’s van die sonsondergang te gaan neem. Nick is nie net ‘n harde ryer nie maar ook ‘n man met ‘n bedrewe oog vir ‘n goeie hoek om daardie spesiale foto te neem. Francois, ons kunstenaarsiel op ‘n KLR, het sy driepoot saamgery om daardie GROOT foto te neem.
Saterdag baie vroeg het ons weer in die pad geval. Byna 190 km se grondpad, klippad, sandpad en panne het op ons gewag. Ek hoef niks oor die panne te seg nie. Kyk na die foto’s. Dis ‘n onwerklike toneel op die groot soutpan met die KLRs wat nietige klein kolletjies geword het. Op die pan het my KLR na 77 777,7 km oorgeslaan.
Laatmiddag na ‘n lang dag in die saal het ons die laaste kilometers in diep sand na ons kampeerplek by Khama aangepak. Albert uit Messina, nuut in die KLR kring, het ons gewys hoe om uit ‘n gewone blikkie tuna in olie gerookte tuna te maak en sommer terselfdertyd ook nog koffie te kook. Hy het lank met sy rugpak geswerf en die tunategniek in Israel geleer.
Die kampplek in Khama bestaan uit wit sand met groot bome waaronder mens tent kan opslaan. Dit het na die lang dag op die KLRs soos ‘n hemelbed gevoel.
Sondag het ons gegroet. Ons groep moes die lang pad terug aanpak terwyl Doc KLR en trawante hul KLRs weer op die sleepwaens gelaai het om terug huis toe te sleep. Ek wil nie dink hoe dit in daardie bakkie verder gekuier en gepraat is.
En dit alles het ek te danke aan ‘n eenvoudige outydse motorfiets wat my tweemaal oor Afrika, deur Europa, op die Hunters Route en op baie ander ver paaie altyd veilig gedra en weer huis toe gebring het. Ek sal mos nooit eendag van die motorfiets ontslae kan raak nie.
Geniet die foto’s van die groot Makgadigadi avontuur!

Edward het vir hom hierdie reuse worsbroodjie gemaak. Ek moet egter noem dat hy 'n reuse lang man is.
I know it, I love it, I like this way!
Hercules 🙂