Toe die koue winterswolke verlede week al hoe meer noord begin rol, het ek en vyf ander van die KLR Clan die pad noorde toe, Zimbabwe toe, gevat.
So 120 km noord van die grens op die Bulawayopad is Tod’s Guest House. Die plaashuis cum gastehuis is reeds vir ‘n paar generasies in die familie se besit. Dit het die bosoorlog van die sewentigs oorleef. Toe kom die jare van vrede, groei, voorspoed en baie toeriste. In Afrika hou goeie tye nie baie lank nie. Toe die bendes “veterane” begin het om wit plase oor te neem, het die winkelrakke leeg begin word, petrolpompe net stof begin stof spoeg het, het die baie toeriste besluit om hul Rande, dollars en euro’s eerder in ander lande gaan spandeer.
Tod’s leef van die toeriste wat padlangs reis. Vir hulle was die plaashuis ‘n stukkie Out of Africa. Hulle kon op die plaasstoep sit en na die volmaan oor die mopaniebosse sit en kyk. Die hoogtepunt van die verblyf was dikwels die aandete in gedempte lig met sagte musiek op die agtergrond.
Die ma van die familie wat die gastehuis met ‘n ysterhand beheer het, is Engeland toe gestuur en die kinders het die stryd opgeneem om Tod’s te behou. Ook voor hul hekke het die plaasbesetters saamgedrom, en toe Gary ‘n paar skote in die lug gevuur het, is hy kort daarna deur die polisie in hegtenis geneem en in Gwanda in die tronk gegooi.
Gary se vrou Thea het die beheer van Tod’s oorgeneem. Gary is terug en probeer sy bes om die gety om te draai, maar die wind bly figuurlik wes waai. Salarisse moet betaal word, en opknappingswerk bly dikwels eerste in die slag as geld minder as min word.
So is die Giraffe Run gebore, ‘n saamtrek van ‘n groepie motorfietsryers uit Zimbabwe en Suid-Afrika. Hulle kuier vir ‘n naweek saam en los broodnodige geld terug.
Vroeg hierdie jaar het ek vir die eerste keer in jare by Tod’s gestop. In April het ek een aand daar geslaap. Toe het Thea my daavan vertel en het ek besluit om ‘n paar van die KLR manne aan te moedig om saam te ry vir die naweek. (Net een van ons groepie het nog ‘n KLR gery, maar dis vir ons nie belangrik nie)
Wat kan ek oor die naweek skryf? Dit was een groot FEES! Wit en swart het saam gekuier en geeet. Motorfietsryers van noord en suid van die grens kon saam oor ‘n Lion Lager kuier. Ja, die manne noord van die Limpopo drink nog steeds Lion Lager.
Toe die motorfietse gisteroggend vroeg begin vertrek het, het ‘n groot stilte oor ons KLR groepie kom klim. Ons het ons tente bietjie eenkant weg van die groot lawaai opgeslaan. Kan dit wees dat baie motorfietsryers na sulke saamtrekke toe kom om “sad” te voel as almal soos die wind oor die wye Afrikavlaktes uiteenspat?
Kyk na die foto’s en maak julle eie storie op.
(En dan ‘n laaste filosofiese vraag – Saterdagaand vra iemand my wat is liefde. Hoe weet mens wanneer ‘n man of ‘n vrou die regte maat vir die lewe is? Later die aand toe gee iemand wat nie van die eerste vraag geweet het nie, sy skitterende verklaring wat liefde is. Ek gaan julle later vertel wat die tweede mens gesê het. Maar wat dink jy?)
Hier is die foto’s:

For two nights we had live entertainment. The lady is a passionate singer whose voice seduces one to dream of travels in faraway countries.

The hotel does not exist anymore. In earlier times it marked the halfway mark between Beit Bridge and Bulawayo.
Dit sal lekker wees om volgende jaar saam te gaan
‘LIEFDE’ is ‘n klein wesentjie wat in jou woon – elke keer wanneer iets in JOU gemoed, ‘SY’ snare roer. . .skryf ‘hy’ sy boekie verder. JY sal eers kan lees wat ‘LIEFDE’ geskryf het wanneer JY besluit, om jou bril op te sit en te lees, wat LIEFDE in sy boek geskryf het. (ONTLEED JOU HART EN WEES EERLIK TEENOOR JOU EIE GEVOELENS)