Toe ek gister met die Yamaha terug in Naboom kom, was die Yammie minus ‘n paar skroewe. Ek het by ‘n hardewarewinkel gestop wat aan Baboos behoort, ‘n Moslem hier van onse dorp. Na ‘n lang soektog in die rakke het sy verkoopmense vir my passende skroewe gekry. Ek het buite gaan kyk of dit pas, en Baboos jnr. het saamgestap. Toe ek tevrede was dat dit werklik pas, wou ek gaan betaal. Baboos jnr. het met sy hand afwysend gewaai en gesê. “Vat dit, jy hoef nie te betaal nie.”
Goedheid is oral, nie net in Soedan nie. Dankie Baboos!
Ek het vanmiddag ver met die KLR gaan ry, grondpad, groen bos, koedoes, sebras, rooibokke en blouwildebeeste gesien. Die KLR bly vir my die fiets vir Afrika. Kyk na die volgende twee foto’s. Is dit nie wonderlik om laatmiddag na die eerste reëns net die pad te kan vat en vars lug en groen bos te geniet nie?
Philip en Marietjie het ‘n paar foto’s vir my uit Botswana gestuur. Hulle kamp vanaand by Nata Lodge net suid van Nata in Botswana. Dit lyk of hulle dit geniet.
Philip het geskryf: “Die ry vanoggend van Francistown na Nata was die ergste wind en stof wat ek nog ooit beleef het. Ons het baie moeilik gery en daarmee saam was dit Vry Independence dag, maw langnaweek en die pad is baie besig. Ons is gelukkig, die genade genoeg en veilig by Nata Lodge.”
Wens ek was daar, die grondpad wat so uitstrek bring soveel heimwee …..