Reisnuus en ander lekker dinge.

Die bosveld begin nou te leef. As ‘n mens laatmiddag ry, voel ‘n mens die lewe van die bos aan. Dinsdag het ek teen skemer van Mokopane met die KLR teruggekom. Skuins links van my was die mooiste volmaan besig om op te kom. Dit was nog ‘n kopfoto wat ek nooit sal vergeet nie.

Die laaste naweek van Oktober vind ons jaarlikse KLR saamtrek op Golden Gate plaas. Hierdie jaar is daar tweekeer meer mense wat kom as verlede jaar. Ek sien baie uit na die weersiens met ou vriende. Vir my een van die hoogtepunte is vriend Eeton wat al die pad van Kenhardt in Boesmanland soontoe kom. Dis nie die weersiens met hom wat vir my die hoogtepunt is nie maar sy vrou Suzette wat saamkom. Sy pak die lang pad per KLR aan en ry hom self tot daar. Skitterend!

So het die Blackberry ineenstorting ook die kommunikasie tussen my en Philip-hulle ‘n bietjie belemmer. Hier is eposse van hom oor hul toer deur Botswana, Zambië en Zimbabwe.

4 Oktober:

Hi Lodie, vinnige update. Die pad van Nata na kasane is nie so sleg as wat ons gehoor het nie. So 120km se verleggings waar ons darem tussen 60 en 90kmh kon handhaaf.

Ons het 3 olifante 40km voor Panda gekry en niks weer nie. Hulle was egter ook ver van die pad af.

Chobe lodge was so vol, ons kon nie eens staanplek kry nie. Het toe maar by Kubu lodge gekamp. Kon natuurlik nie die sonsondergang beleef soos ons wou nie, maar darem die gevoel gekry. Die aand het dit weer gereen.

Vanoggend het die son ons behoorlik geklits, maar die ferry van Kazankulu na Zambie was ‘n ervaring. By die grenspos was dit maar redelik deurmekaar, alhoewel hulle dink als verloop seker ordelik.

Ons was seker so 11uur in Livingstone en sommer dadelik tent opgeslaan by Waterfront en gou klere uitgespoel. Op pad valle toe het dit begin reen en ons het die water wat wel vloei in gietende reen ervaar. Ons was druipnat. Oppad terug na Livingstone het ons gelukkig 2 olifante langs die pad gesien en gou fotOs geneem.

Die sonsondergang is natuurlik hier ook pragtig en ek heg 2 fotos aan. Was ook gelukkig om met die sonsondergang ‘n olifant te sien oor die rivier swem. Net te ver weg vir die foon se ou kameratjie.

More ry ons Monze toe en slaap by The Moorings kamp.

Slaap wel en seenwense.

Philip en Marietjie

5 Oktober:

Hi Lodie sukkel hier in Zambie met die epos, sms en mms. Ons nou op Moorings kamp net anderkant Monze en slaap vanaamd hier. More Kariba toe en opgewonde om die wal te sien. Laat weet weer waar ons is. Groete

9 Oktober:

More Lodie, ek weet nie of die epos deurkom na jou nie, maar ek probeer maar.

Ons is tans in Mutare op pad na Masvingo se rigting. Ons slaap daarwaar ons lus is en wanneer dit gelee is vanaand. Het gister by die Trout rally aangegaan van Harare af, maar dit het ons nie geval nie. Opgery na die Worlds View met die mees ongelooflike uitsig. Ons het nog nooit so iets beleef nie.

Die weer is baie koud, veral die aande en die wind het nog glad nie gaan le nie. By die worlds View get ons bietjie uitgevis oor slaapplek en die oulikste cottage gekry om in te oornag, die lekkerste kaggel en natuurlik trout damme. Ons kon nie visvang nie, die stokke het ontbreek, maar sal weer hiernatoe kom met meer tyd op hande.

Vir eers klaar, ek sal kyk as die epos deurgaan, sal ek jou weer op hoogte hou.

Groete Van Niekerks

13 Oktober:

Hallo Lodie.

Lyk my al my elektroniese goeters het van Zambie af gefaal. Ek het vandag, 13de, eers weer epos en blackberry kontak met die kinders ook.

Dis dalk nou bietjie laat om catch-up te speel, maar net in kort.

Van Livingstone was ons na Monze waar ons by die Moorings gekamp het. Baie droog, maar oulike staanplekke. Was net ons 2 en die kampopsigter het ons omtrent onthaal. Van daar het ons die Kafue rivier gaan kyk en toe ou vriende in Siavonga gaan opsoek, net voor ons oor die Kariba wal is.

In Kariba het ons die aakligste nag beleef. Die Warthog kampterrein is op die oewer van die meer, maar die kroeg word deur al die locals besoek, en die laaste dronkaard is eers 3vm daar weg. Daarna het die taxis ons mal gemaak, met die gevolg dat ons dou voor dag reeds vertrek het na Harare.

Met jou ervaring in gedagte het ons by Chinoyi grotte aangegaan met die oog om daar te slaap. Dit was egter so besig met maklik 8 groot busse wat daar gestaan het. Ons het die grotte besoek, maar nie daar geslaap nie. Die grotte is ongelooflik mooi.

In Harare het ons by ‘n swart gastehuis geslaap en was weereens tot in die afgrond bederf.

Saterdag deur Nyanga toe vir die Trout rally, maar soos ek jou gese het, nie ons cup of tea nie, en op gery om Worlds view te gaan kyk, en sommer daar in ‘n cottage geslaap wat ons so oor die telefoon gereel het. Dit was bitter koud en die kaggel was ‘n redding.

Sondag wou ons by die warmwater bron, so 80km suid van Mutare slaap, maar wat ‘n teleurstelling! Dis nou eerder ‘n myners kampong. Ons het toe verder na Birchenough Bridge gery om die hotel aan te durf. Uiteindelik het ons op die gras voor die hotel gekamp en ‘n baie rustige aand daar deurgebring. Die hotel is eintlik nie meer blybaar nie, maar funksioneer nog as een.

Van daar is ons na Masvingo en het by die ruines gekamp. Die apies is egter daar ‘n groot probleem, maar ons het maar alles mooi toegehou. Wat ‘n gesig. Ons was baie beindruk, en het ook ‘n koue bier by die hotel gaan drink.

Die laaste 2 aande het ons by die Matopo hills by The Big Cave gekamp. Heerlik gerus en die mooi van die baie rotse ervaar.

Vanoggend het ons Francistown toe gery en kamp vanaand by die Marang. Dis ongelooflik besig hier, en ons sukkel om die baie mense om ons te verwerk. Gewoond geraak om die stilte van die natuur te waardeer en net die geluid van jou siel te hoor!

More wil ons net oor die grens terug in SA en dan oorslaap, omdat ons kan, en sal seker so 10uur Sat oggend tuis wees.

Lekker slaap en ons praat weer.

Groete

Van Niekerks

Ek sien uit na die weersiens met Philip en Marietjie om al die heerlike reisvertellinge te hoor!

About Lodie

Africa, Africa, Africa!
This entry was posted in Uncategorized. Bookmark the permalink.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s